top of page
  • Writer's pictureEmmaus Baptist Church

Om die Kerk te Verlaat tot die Heerlikheid van God

1 Kor 10:31 Of julle dan eet of drink of enigiets doen, doen alles tot verheerliking van God.

Die Christen se roeping is om alles wat hy doen, tot die verheerliking van God te doen. Alles wat ons doen moet tot God se heerlikheid wees. Deel van hierdie, “enige iets doen” waarvan Paulus skryf sluit sekerlik ook die manier waarop Christene die plaaslike gemeente verlaat in.

Die wat oorweeg om die plaaslike gemeente te verlaat het ook hulp nodig om dit op ‘n God verheerlikende wyse te doen. Is daar prakties hulp wat die Bybel jou kan bied in jou oorweging om van gemeente te verander?


Dit mag dalk teenstrydig klink vir ‘n pastoor om so hulp aan te bied, maar daar is te veel kerklidmate wat hierdie belangrike en gewigtige besluit neem, en uitvoer op ‘n manier wat geen heerlikheid aan Christus die Hoof van die kerk bring nie. Om die heerlikheid van God te soek in dit wat ons doen is baie nou verweef met dinge wat tot stigting van ander is (Lees gerus 1 Kor 10:23-33 om vers 31 in sy geheel te sien).


Ek is oortuig daarvan dat Christene beter kan doen ten opsigte hiervan, en ook moet. Wat hier volg is ‘n prakties tien-punt lys om na te gaan of die besluit om die plaaslike kerk te verlaat ‘n God verheerlikende besluit is.


1. Doen Self-ondersoek

So, jy het die besluit gemaak en selfs al aan jou gesin meegedeel. “Genoeg is nou genoeg... Dit is tyd om ‘n ander kerk te soek.” Stop. Dink. Bid. Doen eers wat so gereeld agterweë bly. Begin deur self-ondersoek in te stel.

Dit is duidelik dat jy ongelukkig is met jou kerk, maar wat is die oorsaak? Wat as jy miskien ‘n aandeel bydrae tot jou eie ongelukkigheid? (Wat as jy miskien die oorsaak is?) Dit is beslis nie maklike vrae om te oorweeg nie, maar Christus en sy Apostels verwag van ons om hier te begin (Matt 7:1-5, 1 Kor 11: 27-32).


2. Stel die rede vas

Soos jy aan die einde van jou self-ondersoek kom sal jy sekerlik sake al in ‘n beter lig sien en duidelikheid begin kry. Emosionele wolke sou teen die tyd verdamp. Die lig van sobere nadenke sal jou help om die hoof rede vir jou begeerte om te vertrek identifiseer, en duidelik kan voorhou.

Daar is menigte goeie Bybelse, en God verheerlikende redes om ‘n plaaslike gemeente te verlaat (bv. valse lering, wêreldse invloede, verdraaide aanbidding ens.), maar daar is ook verskeie onbybelse redes. Een van die mees algemene redes is onopgeloste persoonlike konflikte. Laat dan nou die unieke en raaiselagtige voorbeeld van Paulus en Barnabas op sy (Hand 15:36-41). Te veel mense maak gebruik van die onduidelikhede van die gebeure as ‘n verskoning om op ongegronde wyse gemeenskap op te sê. Bepaal eerder hoe so ‘n persoonlike konflik opgelos kan word deur die toepassing van Bybelse beginsels (Matt 18:15-20, Gal 6:1-8).


3. Soek geestelike raad

Dit is goed om eers met ‘n paar vertroude broeders oor jou bekommernisse te praat. Let wel broeders wat die heerlikheid van God voor oë het en die belange van die gemeente ter harte neem, en nie skinderpraatjies duld nie. Jy wil raad inwin om God verheerlikend op te tree, nie volgelinge werf om ‘n skeuring te veroorsaak nie.

Elke weë van ‘n man lyk reg in sy eie oë, maar daar is wonderlike geestelike veiligheid vir die wat luister na gesonde, geestelike raadgewers en hul raad versigtig oorweeg (Spr 11:14, 12:15, 15:22, 21:2 en 24:6).


4. Eer jou ouderlinge

Dit is elke Christen se geestelike verantwoordelikheid om hul pastoor/ouderlinge te eer (1 Thess 5:12-13, Heb 13:7-19). En dit is veral belangrik wanneer die gemeenskap van die plaaslike gemeente ‘n opskudding gaan beleef deur die onttrekking van ‘n lidmaat.

Na jy die hoofrede vir jou begeerte om die kerk te verlaat geïdentifiseer het, maak ‘n afspraak met jou pastoor/ouderlinge om dit met hulle te bespreek. Hulle sal na jou luister, saam met jou bid en hulle mag dalk ook vir jou raad aanbied. Dit is deel van hulle geestelike plig as pastoor/ouderlinge. Hulle is daar vir die geestelike welstand van die gemeente.


5. Volg die behoorlike kerkregtelike stappe

Meeste kerke het ‘n konstitusie wat die spesifieke stappe rakende lidmaatskap opneem, -oordra of -bedank, uiteensit. Hierdie stappe is nie onredelik nie, maar noodsaaklik vir die handhawing van goeie orde in die gemeente (1 Kor 14:40). Om goeie orde te handhaaf is deel van ons roeping om God te verheerlik en om te doen wat tot stigting van ons naaste is.

Wees geduldig, hierdie stappe gaan tyd neem. Onthou dat jy as lidmaat ingestem het om in die Here onderdanig te wees aan die orde van die gemeente. Vra jou pastoor, “Wat is die nodige stappe?” en neem dit dan een stap op ‘n slag.


6. Vind jou volgende gemeente

Te veel kerklidmate besluit om hul gemeente te verlaat, voor hul ‘n ander een gevind het. Geen Christen (lid van Christus se geestelike liggaam) kan los wees van die gemeenskap van gelowiges nie. Dit is onnatuurlik en gevaarlik vir die Christen om ‘n alleenloper te wees. (Dink maar wat gebeur met ‘n liggaamlike ledemaat wat afgesny is van die ligaam).

Ondersoek al die plaaslike kerke naaste aan waar jy bly. Besoek die gemeentes en wees eerlik met jouself. Miskien ontdek jy dat die gras nie soveel groener is op ander plekke nie. As jy sien dat jou uidagings daar maar net dieselfde gaan wees as by jou huidige gemeente, moet jy dalk liewers bly.

Hierdie stap sal jou sekerlik ‘n paar maande neem. Onthou dat jy steeds ‘n lidmaat van ‘n gemeente is, so hou aan om jou gemeentelike verpligtinge na te kom en jou pastoor/ouderlinge op hoogte te hou.


7. Vra vir verplasing van lidmaatskap

Hierdie is vereweg die veiligste en mees eerbare manier om lidmaatskap te verander. Dit is veilig wanneer jy met die hulp van jou huidige pastoor/ouderlinge toevertrou word aan die sorg van jou nuwe pastoor/ouderlinge. Dit is ook eerbaar omdat jy dab die ouderlinge van beide gemeentes respekteer in hul verantwoordelikheid om oor jou siel te waak, as die wat rekenskap moet gee (Heb 13:17). Onthou die begeerte en gedrag van ware herders Joh 10:1-10, en eer hulle daarvoor. Hulle word so bemoedig deur jul liefdevolle en sagte optrede teenoor God en sy mense.


8. Pasop wat jy sê

Daar is ‘n groot versoeking wat wag wanneer jy jou nuwe hoofstuk begin; om jouself te regverdig deur sleg te praat van jou vorige gemeente, ouderlinge of lidmate.

Almal is nie geregtig om te weet wat jou rede is waarom jy jou vorige gemeente verlaat het nie (veral nie sosiale media nie). Ons moet onself afvra of die inligting stigtend gaan wees vir die hoorder. “Laat daar geen vuil woord uit julle mond uitgaan nie, maar net ‘n woord wat goed is vir die nodige stigting, sodat dit genade kan gee aan die wat hoor.” (Efe 4:29)

Een manier om jou mede gelowiges te dien is om met liefde en dankbaarheid van jou vorige gemeente te praat. Jy het immers daar aangesluit vir ‘n rede, onthou daardie redes en praat meer gereeld daaroor.


9. Sê totsiens

Baie lidmate wat die kerk verlaat sê iets soos, “Ons wil in kontak bly... Ons wil nie kontak verloor nie.” Partykeer probeer hul vir ‘n tyd lank kontak behou, maar dit word soms onmoontlik om vol te hou met twee gemeentes. ‘n Plaaslike gemeente is baie soos ‘n hegte familie. Vreugdes word gedeel, soos huwelike, geboortes, grade-plegtighede ens. Net soos wanneer familie lede die huis verlaat verander die vertrek van ‘n kerklidmaat die bestaande verhoudinge. Sulke veranderinge word nie somer weer teruggekeer nie.

Probeer gerus soveel as jy kan, met goeie intensies om in kontak te bly, maar moenie verwag dat jou vertrek uit die gemeente jou verhoudinge met mense in die gemeente onaangeraak laat nie. Hierdie is die koste wat jy moet bereken voor jy die besluit maak of jy jou kerk gaan verlaat.


10. Bly aan as lidmaat

Soos voorheen genoem is daar grondige bybelse redes om ‘n kerk te verlaat. Terselfde-tyd behoort geen Christen ‘n gewoonte daarvan te maak om van gemeentes te verwissel nie. Wanneer die bogenoemde stappe in ag geneem word, sal dit jou help om jou keuse versigtig uit te oefen. Bly dan by die besluit.

Ek kan jou waarborg dat die nuwe gemeente net so onvolmaak as jou ou gemeente gaan wees. Onthou Christus is besig om Sy bruid te reinig deur Sy woord (Efe 5:25-27). Elke gemeente gaan sy vlekke hê.

Christene moet versigtig wees vir ‘n “verbruikers denkwyse” wat mens dryf om ‘n gemeente te soek soos wat ons soek na die perfekte produk. Die gemeente van Christus is nie ‘n produk wat jy kan vat en omruil soos dit jou pas nie, dit is Sy bruid, en sy is kosbaar in Sy oë.


Gevolgtrekking

Om die plaaslike gemeente te verlaat is vir geen Christen ‘n ligtelike oorweging nie. Dit vereis doelgerigte oordenking met gebed. Dit vereis ook ‘n mate van geduldige kerkregtelike stappe. As jy die bogenoemde stappe versigtig volg kan jy met groter sekerheid weet dat jy jou gemeente verlaat tot verheerliking van God, en tot stigting van God se mense.


Vrylik vertaal en aangepas vir ‘n Gereformeerde Baptiste konteks deur Hennie van Niekerk.


Oorspronklike artikel geskryf deur: Christian McShaffrey (Pastoor van Vyf Solas Kerk (Ortodokse Presbeteriaanse Kerk) in Reedsburg VSA.

63 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page